In 'n ideale wêreld sal die internet slegs deur pasiënte gebruik word as 'n beginpunt om vas te stel of 'n simptoom ernstig genoeg is om 'n doktersbesoek te regverdig.

Ongelukkig vir die dokter, sal die pasiënt waarskynlik met 'n kloppende hart na jou mediese praktyk toe jaag en dink hulle sterf omdat "Google" vir hulle gesê het hul hoofpyne is 'n simptoom van breinkanker ...

Terwyl aanlyn hulpbronne net dit moet bly – hulpbronne – kan die inligting wat verkry word, ongelukkig geweldige nood veroorsaak by die meerderheid van u pasiënte.

En dit word weereens die geneesheer se probleem. Nie net moet u die simptome soos gewoonlik behandel nie, maar u moet ook as 'n tipe berader optree, want nege uit 10 keer moet hulle gerusstel word dat hul pynlike hoofpyn nie te danke aan breinkanker is nie, en nee, hulle gaan nie binne die volgende drie weke doodgaan nie.

Al behoort selfdiagnose nie u probleem te wees nie, word dit iets wat gehanteer moet word as dit u pasiënte affekteer. Wees dus voorbereid volgende keer as 'n pasiënt aankom, wit in die gesig, vertellende dat Google gesê het hulle gaan doodgaan ...

HOE PASIËNTE DIE INTERNET VIR SELFDIAGNOSE GEBRUIK

SOEKENJINS

Daar is 'n oorvloed van mediese webtuistes, wiki-bladsye en blogs waar mense mediese inligting kan kry. Volgens Women’s Health tydskrif doen 50% van die slimfoongebruikers presies dit net deur hul eie mediese navorsing via soekenjins te doen.

Algemene internet soektogte bied glad nie 'n pasgemaakte diagnose nie, maar gee inligting met ‘n lys van moontlikhede wat wissel van die konserwatief tot die gruwelike.

Die probleem met die resultate van die soektog is dat selfs die mees geloofwaardige webtuistes (wat nie onafhanklike, geloofwaardige mediese joernale is nie) inligting uitgee wat nie deur ‘n mediese raad saamgestel is nie en dus dikwels verkeerd is.

Oor die algemeen is die meeste pasiënte egter nie daarvan bewus nie en beskou die inligting as wet.

SIMPTOOM NASIENING

Sagteware wat simptome nasien is volop, maar in ‘n studie wat deur die British Medical Journal gepubliseer is, en deur Business Insider oorvertel is, het navorsers 23 wêreldwye webtuistes beoordeel wat beweer om inligting oor diagnose en triage te bied. Daar is 45 pasiëntsketse gebruik, waarvan die helfte algemene toestande was, om die akkuraatheid van die webtuistes te kontroleer.

Skermgreep van simptoom nasiening sagteware wat gebruik word op die WebMD webtuiste.

Hulle het gevind dat die korrekte diagnose slegs 34% van die tyd  heel boaan die lys opgekom het. Dokters wat dieselfde gevalle ondersoek het, was egter 85% tot 90% van die tyd akkuraat.

Die gevolg is dat die sagteware dikwels pasiënte paniekbevange laat, omdat hulle dit as 'n wettige bron van inligting beskou.

HOEKOM VERKIES PASIËNTE DR GOOGLE?

Om Google te raadpleeg vir inligting voordat enige ander stappe geneem word, is nou 'n wêreldwye kultuur, en selfs Suid-Afrikaners, wat geneig is om 'n bietjie stadiger te wees oor die opname wat die internet betref, gaan aanlyn om kennis te verkry voordat enige verbruikersbesluite geneem word.

As mense oorweeg om 'n hondehok te koop, vind hulle eers inligting aanlyn, en soek dan die beste handelsmerke en dan die beste pryse. Uiteindelik sal hulle eers een koop as hulle volledig ingelig voel.

Statistieke wys dat die meeste mense aanlyn gaan om navorsing te doen voordat hulle koop - of hulle van plan is om goedere aanlyn of nie te koop. Hulle maak vergelykings en soek produk- en diensresensies om die beste oplossing te vind.

Dit maak dus sin dat pasiënte eers na Dr Google sal gaan voordat hulle 'n afspraak maak by ‘n mediese praktyk.

Nog 'n rede hoekom pasiënte Dr Google verkies is dikwels om die tyd van 'n doktersbesoek te bespaar, en om koste te bespaar.

Mense wat nie die raad van dokters vertrou nie, kan na die internet draai om alternatiewe oplossings, soos natuurlike middels, te vind.

Ander moontlikhede sluit in 'n gebrek aan vertroue in hul dokter, of 'n gebrek aan verhouding, of selfs 'n begeerte vir anonimiteit..

HOE DOKTERS MOET REAGEER

Pasiënte gaan op die internet inligting soek, of dit nou voor of na die doktersbesoek is.

Mediese praktyke moet dit hanteer deur pasiënte te adviseer om betroubare inligtingsbronne te kry:

  1. Portuurbeoordeelde wetenskaplike tydskrifte, soos die Journal of Food and Nutrition Sciences, Dental Health: Current Research, Journal of Addiction Research and Therapy, ensovoorts. Vir 'n volledige lys van onderwerpe, besoek Peer Reviewed and Open Access Journals.
  2. Waarsku pasiënte dat baie webtuistes slegs probeer om geld uit produkte te maak, dus is hul motivering nie so gesond nie, en hul advies is geneig om op skakels te steun wat die webtuiste winsgewend sal maak.
  3. Sê vir hulle dat baie artikels geskryf is deur mense wat nie gekwalifiseer is om mediese advies te gee nie.
  4. Moedig hulle aan om ‘n mediese praktyk te kontak wanneer hulle antwoorde wil hê.